"Dié van SA hiér... " deur MANDY ROSSOUW [boodskap #111496] |
Sat, 04 November 2006 13:37 |
bouer
Boodskappe: 4795 Geregistreer: December 2003
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
Buitelandse beeld: Dié van SA hiér wíl huis toe gaan
Nov 03 2006 06:47:37:380PM - (SA)
Mandy Rossouw
In 2001 het ek vir die eerste keer Londen toe gekom om die tradisionele
post-universiteit-werksvakansie te kom doen. Toe was baie dinge vir my
nuut.
Dit was die eerste keer dat ek oorsee reis, die eerste keer dat ek reis
sonder die wakende oë van my ouers en die eerste keer dat ek my eie
werk moes soek.
Die moltreinstelsel was 'n vreeslike aardigheid. Aan die begin het ek
my vergaap aan netjies geklede kantoorwerkers wat heel gemaklik in die
rukkerige trein aan 'n paal vashou terwyl hulle koerant lees, op hul
selfone speel en warm koffie drink, maar later was ek een van hulle.
Mense se gewoonte hier om jou uit die pad te loop sonder om verskoning
te vra en jou te ignoreer wanneer jy vra vir aanwysings, was ook 'n
nuutjie.
Wat egter nie nuut was nie, was die jong Suid-Afrikaners wat ek hier
ontmoet het. Hoewel hulle hier werk gedoen het wat hulle tuis nooit sou
droom om te doen nie, was die houding jeens die land nie so ver
verwyderd van wat baie mense in Suid-Afrika om hul braaivleisvure
bespreek het nie.
Veral in die armer buurte van Londen, waar Suid-Afrikaners saambondel
in huise met 14 inwoners, was naweke van braai en praat oor rugby aan
die orde van die dag. Wanneer politiek gepraat is en die kommentaar
meer as net grens aan rassisme, was dit nie veel anders as in 'n
gemiddelde huishouding in voorstedelike Suid-Afrika nie. Die vrese was
oral dieselfde: Kan ons regtig 'n swart regering vertrou? Wat gaan
word van die "Rooi Gevaar" waarteen almal gewaarsku is in hul
grootwordjare? Hoe veilig is ons besittings en geld in 'n land wat
kort duskant 'n burgeroorlog omgedraai het?
Vyf jaar later is ek weer hier. Die oggendroetine op die trein is
steeds dieselfde en ek verdwaal steeds in die systraatjies tussen
Oxford Street en Piccadilly Circus.
Maar my mede-Suid-Afrikaners is anders.
Ek ontmoet meer mense wat suksesvol is en nie net naarstigtelik die
ponde spaar van hul nagwerk as veiligheidswagte of konstruksiewerkers
nie. 'n Groeiende groep dokters, prokureurs, rekenmeesters en
konsultante is besig om by wêreldbekende firmas hul stempel af te druk
en ding gemaklik met hul Britse landgenote vir die topposte mee.
Ek glo nie die ander groep het ophou bestaan nie, maar dis duidelik dat
'n professionele middelklas van jong Suid-Afrikaners hier in Londen
vorm. Die belangrikste kenmerk van dié groep is die algemene houding
teenoor Suid-Afrika wat hemelsbreed verskil van die houding wat ek vyf
jaar gelede hier aangetref het.
Daar word nou gepraat van Suid-Afrika as een van die wêreld se
snelgroeiendste ekonomieë en 'n leier in Afrika. Enige
nie-Suid-Afrikaner word vertel van hoe nodig buitelandse beleggings is
en van hoe lekker dit is om in Suid-Afrika te wees en son te sien vir
meer as 'n paar dae per jaar.
Ook is daar 'n aanvaarding van die integrasie wat familie en vriende
by die huis ervaar. Die swart tannie wat sit en tee drink in die
sitkamer is nie die bediende nie, maar die buurvrou. Soms is daar selfs
'n mate van afguns te bespeur wanneer hulle huis toe gaan en sien hoe
goed die mense daar saamleef, meer leer oor hul landgenote en sosiaal
meer aanpasbaar en verdraagsaam word.
Meer as enigiets, almal hier wil huis toe gaan. Seker darem nie almal
nie, maar 'n groeiende groep kyk uit vir elke moontlike geleentheid
om te kan teruggaan.
Vyf jaar gelede sou 'n geleentheid soos Woza Ekhaya, 'n konferensie
waar Suid-Afrikaanse maatskappye Suid-Afrikaners hier kom werf, nie
eers gekonseptualiseer gewees het nie. Maar verlede week is die drumpel
van die Chelsea -sokkerklub waar dit gehou is, deurgetrap van
Suid-Afrikaners wat geleenthede soek om huis toe te gaan. Selfs die
magtige pond wat almal hierheen getrek het, het nie meer die houvas van
voorheen nie, want behalwe dat groot salarisse ook in Suid-Afrika
moontlik is, is die trek van die lewenstyl en die nabyheid van "mense
soos ons" baie sterker.
Natuurlik staan swart bemagtiging en misdaad boaan die lys van dit wat
mense skrikkerig maak om die groot stap te doen, maar daar is 'n
bewuswording dat die gras nie so groen is aan hierdie kant nie en dat
daar uitgemis word op die geleenthede wat Suid-Afrika kan bied.
Mandy Rossouw is Beeld se verteenwoordiger in Londen.
|
|
|